Oleander (Solace)

Ek het met daglig by die klub uitgeloop – alleen. Met my hande in my sakke, my gesig na die wolke het ek ‘n paar blokke ver geloop. Die belofte van seelug het my neus gekielie en die varsheid van die oggend beslis teenstrydig met die seisoen.

Ek loop verby jong straatseuns, snot op hul bolippe soos medaljes vir nog ‘n aand se oorleef op straat. Hul oë steeds vaal wasig van die gom en buttons en dagga wat hulle koop met die geld van gawe mense of is dit skuldige gewetes of gunsies aan monsters wat hul sakke volmaak?

By die garage koop ek ‘n bottel water en gaan staan vir ‘n oomblik om dit oop te maak.  ‘n Man skreeu by die garage se toilet deur om die-fokken-deur-NOU-oop-te-maak-of-ek-skop-hom-fokken-af. Die vrou wat oopmaak is niks meer as ‘n straat hoer nie. Die man druk die deur oop, forseer homself tussen die deur en die kosyn na binne en slaan dit agter hom toe. Ek wonder of sy beter as ek voel…

Ek loop verder. Die pad lei my verby ‘n kerkie. ‘n Koue rilling jaag my ruggraat af as ek die goddelikke ruisende klanke van Amazing Grace deur ‘n volle Pipe band op ‘n koue wintersoggend in swart onthou.

My voete stop by ‘n dubbelpad en ek draai terug na my kar. Ek het in werklikheid geen begeerte om in my kar te klim, om na ‘n leë huis te ry. Ek wonder hoe lank die vis sal oorleef sonder kos of suurstof en ek sien sy laaste patetiese pogings om oorlewing, ‘n gehap na lug, sonder suurstof.

Ek stap terug, my hoof nou geboë. Ek wonder of ek kan ry tot by die einde van die wêreld. Of dit daar sal beter wees. Of daar geluk sal wees, of daar iemand sal wees.

By die klub sien ek die laaste naglopers is intussen uitgejaag. Deur drank en dwelm newels dwaal die groepie soos ‘n spul deurmekaar honger varke by ‘n leë trog rond. Op soek na die volgende plek om die aanbidding van persoonlike duiwels voort te sit.

My kar staan en wag in die parkeerterrein by die garage. Geduldig. Die vrou kom by die badkamer uitgestrompel. Haar bruin denim hoog opgetrek, vasgegordel om haar middel. Die broek lyk of dit aan ‘n veel groter mens hoort. Sy loop in die rigting van die grootpad, van waar ek oomblikke gelede gekom het. Die man volg oomblikke later, hy loop na ‘n blinknuwe motor en ry geruisloos weg, na die pad langs die see.

Ek sluit my deur oop en rus vir ‘n oomblik met my oë toe en my kop agteroor teen die sitplek. Ek is moeg, maar ek moet nou hier wegkom. Ek draai die sleutel, die aansitter protesteer en gee op. Ek laat val my kop na die stuurwiel, trek die choke uit en probeer weer. Die aansitter klink soos my longe en keel voel na ‘n nag van tweedehandse rook. My gedienstige stier besluit om terug te keer na die lewe en ek trek uit my parkeerplek en na ‘n paar links draaie begin ek die N1 volg na my huis.

Op my cd speler sing ‘n rits hartseer vroue, musiek wat my skouers laat afrem onder gedeelde geskiedenis. Die musiek is sag, amper onhoorbaar, ‘n blote herhinnering aan die kloppende bas van ‘n uur gelede. Vir ‘n oomblik is dit asof ek nie in my liggaam is nie, asof ek myself sien ry, ‘n hallusinasie.

Die laning oleander langs die pad laat my altyd wonder of die ander bestuurders bewus is van die dood langs die pad. Die dodelike skoonheid. Die pad wil nie vinniger onder my wiele deur beweeg nie. Asof die pad my treiter, my foltering langer wil laat uitrek.

‘n Stil depressie sit soos ‘n groot swart hond voor ‘n hek in my kop en wag net vir die geringste gaping om verwoesting te saai buite. Die hond is my enigste companion, die enigste konstante in my lewe wil dit voorkom. Met die getrouheid van die mens se veronderstelde beste vriend hou die hond wag.

Die aand in die stad was weereens te vergeefs. Ek kan nie besluit of ek net my tyd mors en of ek net meer van my kant af moet doen nie. Ek het myself onlangs belowe om meer impulsief te wees. Om aan meer toe te gee, en om  nie te luister na die swart hond se stil herinnering aan my faalinge nie.

My gedagtes dwaal terug na die vrou wat langs my gedans het. Sy het elke nou en dan ‘n skalkse glimag in my rigting gestuur en ek het dit sekerlik betreklik wrang beantwoord. Ek wou my hand laat rus op haar heup, haar in my rigting du en met haar gesels. Ek het geen begeerte om haar te oorrompel met sjarme en drankies en die res nie, ek wou bloot met haar gesels. Ek wil verstaan hoe sy so gemaklik deel kan wees van die grootskaalse verleiding.

‘n Oomlik se twyfeling en ‘n adonis het haar betower met ‘n sonbruin liggaam wat meer ure in ‘n gimnasium spandeer as wat ek woorde op ‘n papier kan sit. Die vrou se gay companion het met groen oë en siel gestaar en haar na ‘n paar minute met sy vingers om haar pols weggetrek. ‘n Laaste glimlag, háre nou wrang, oor haar skouer het my oog gevang en ek het maar my ooglede laat sak en gewonder hoe dit sou uitdraai as ek meer as net ‘n druppel moed had.

‘n Fladdering langs die pad vang my oog, en sonder dat ek regtig bewus is van wat ek doen, trek ek af. Die Sondagoggend verkeer is nie so swaar nie, maar my klein karretjie wieg met elke verbysnellende voertuig. Ek word bewus van my hande lomp langs my sye en dat ek voor ‘n fladderende duif langs die N1 staan.

Ek kniel op die pad en neem die duif in my hande. Die sagte oë sien net met vrees. Ek wil my bo-bene op my te laat regop kom. Die duif se vlerke is albei gebreek en ‘n straaltjie bloed en kos loop by sy krop uit. My vingers voel die sagte werwels van die duif se nek. Ek sluit my duim en voorvinger. Dis net ‘n vinnige rukbeweging. Die duif se lomp swaar liggaaam spiraal na die grond. Ek vee my hande aan my broek af, draai om en loop terug na waar my kar staan en luier.